Gerard, dankie vir 'n boek wat my end-uit saamgeneem het, sonder dat ek 'n beplande voorneme gehad het om dit te lees.  Uit kort passasies wat my vrou op 'n Saterdagoggend in die bed uit Lig wankelend aan my voorgelees het, het ek die indruk gekry dat dit goed geskryf is en toe ek uiteindelik die boek by haar afneem en verder lees, was ek nie teleurgestel nie en weet nie hoe jy dit regkry om sulke lang sinne te gebruik, wat natuurlik maar die manier is hoe soos ons dink, partykeer sonder leestekens en soms onsamehangend, behalwe dat jy dit doen sonder dat 'n mens met die eerste lees daarvan besef dat dit alles een lang sin was wat tot op die einde  heeltemal sin maak.
Ek het gehou van die vertellerspersperspektief in die eerste persoon.  Ek kan nie aan enige deel van die boek dink wat my gepla het of nie heeltemal oortuig het nie. My vrou het gemeen dat dit merkwaardig is vir ‘n man om ‘n vrou se gedagtegang en binnewêreld so goed te beskryf. Die navorsingsparagrawe is, wat my betref, heeltemal in plek en versterk die narratief.  Die afwisseling met briewe, koerantberigte ensovoorts en die gemaklike oorgang tussen verskillende tye is baie effektief en lees moeiteloos. Die datums by terugflitse maak dit maklik om die tydspronge te volg. Na die lees van die boek kon ek nie onthou dat dit in hoofstukke ingedeel was nie en kon, wat my aanbetref, daarsonder klaarkom. My vrou verskil hieroor.
Jou boek het my sterk herinner aan die boekie van Paul Auster; Letters from the Scriptorium. Ek weet nie of jy dit al ooit onder oë gehad het nie, maar jy sal dit geniet om te sien hoe hy dit ook vanuit die oogpunt van ‘n Alzheimerlyer aanpak. Dit is geskryf met meer klem op die op-die-oomblik dilemma van die Alzheimerpasient. Naamlik: Waar is ek? Is die deur van my kamer oop of is dit gesluit? Wie is dit wat my wil toesluit? Hoekom? Tematies stem Lig wankelend vir my ook baie ooreen met Sophie’s choice, al is dit natuurlik twee uiteenlopende verhale.
Ek het ook die paar resensies gelees wat op internet te vinde is.  Met almal stem ek grootliks saam, maar ek dink byvoorbeeld nie dat jy die karakter Christiaan eensydig in ‘n swak lig stel nie. Uiteindelik kan ‘n mens nie anders as om ook deernis met hom te hê nie.  Hy is saam met Utte deur haar verlede gemaal en op ‘n manier het hy vir Utte werklik liefgehad, selfs bo sy vermoë of verstaan daarvan.
Die een resensent waarmee ek geen raakpunte het nie, is Cilliers van den Berg.  Elke negatiewe oordeel wat hy een na die ander opstapel, is ongeregverdig en loutere onsin.  Die kop van die resensie is negatief en die neerbuigende 'advies' waarmee dit afsluit, is grotesk en seker genoeg om jou behoorlik kwaad te maak.  Ek stem glad nie saam nie.  Ek het niks melodramaties in jou boek gevind nie. Jou taalgebruik is allermins geforseerd, wat nog van 'uitermate' so.  Ek het trouens groot  bewondering vir hoe jy kan skryf.
 Waarmee ek die meeste probleme het in  van den Berg  se resensie, is sy oordeel  dat jou ‘fiktiewe inkleding’ van Utte se storie,  nie slaag om op ‘ernstige en suksesvolle wyse daarmee om te gaan nie.’  Dan verwys hy ook na die “ware” Utte in aanhalingstekens, impliserend dat die ware verhaal iets sou wees om oor te vertel, maar jou weergawe daarvan nie.  Dit is asof hy daarmee ‘n streep wil trek deur die relevansie en waarde van jou boek.
Hierteen reageer ek sterk.  Ek was met die lees van jou boek ontroer oor hoe jy die ontsetting van ‘n oorlog op ‘n baie gestroopte manier beskryf.  Veral die verlossingsopsie van die  priester  en die uiteindelike vlug uit Riga, het my geruk.  Ek kan my indink dat so ‘n ervaring, saam met al die ander blootstellings in ‘n oorlog, by ‘n mens sal bly.  Dit is tragies om te sien, in jou boek, maar ook in die lewens van mense om ons, dat onverwerkte slegte ervarings lewenslange nadraaie het.  Dit is vernietigend vir die spesifieke  persoon en ook vir dié wat te naby is om betyds, of enigsins, te wil, of kan, wegstaan. 
Ek het altyd gedink dat ‘n mens se vermoë om sy reuse te trotseer – to face the music – die belangrikse eienskap is wat  mense se oorlewing in die wêreld bepaal.  Om jou emosionele bagasie suksesvol neer te sit en agter te laat, is natuurlik die eerste deel  daarvan.  Jou boek help ons om dit weer te besef, iets daarvan beter te verstaan. 
‘n Ander baie sterk tema is om ons  te bedag te maak op hoe ontheemd eerste generasie immigrante in hulle nuwe land is. Ek kan nie presies onthou waar dit staan nie, maar ek het daarvan gehou hoe jy beskryf dat Utte die kleurintensiteit van ons sonlig verwens en verlang na die wit son van Europa. Ek het ‘n Poolse vriendin wat, ten spyte van liefdevolle aanvaarding en ‘n wonderlike gesin, ook sukkel om hier aan te pas. Binne konteks van die grootskaalse diaspora van Suid-Afrikaners kan dit ons motiveer om ook begrip te hê vir ons mense wat, net soos Utte, terugverlang en dalk nooit heeltemal in die vreemde sal aanpas nie.
‘n Derde tema wat my tot nadenke stem, is hoe maklik mense hulle uiteindelik alleen in die wêreld kan bevind, hoe belangrik dit is om nie dié wat aan ons toevertrou is, te versaak nie
Hoop ons hoor weer gou van jou met ‘n volgende boek.
Groete
Pieter Stoffberg 
12 April 2013  
stoffberg@megaweb.co.za