CHRISTINA LANDMAN

Ons maak te min van Jesus se aard­se lewe, vertel te min hy het aan mense gevat wanneer hy hulle genees het, vergeet hy het saam met hulle geëet wanneer hy sy wys­­hede gedeel het. Dat, wanneer hulle seer was, hy hul pyn diep en innig aangevoel het. Dis wat teoloë ons vandag vertel: Bekoor en beklee julle met die aardse Jesus ook.


Kahlil Gibran het dit met Seun van die Mens gedoen. In 78 aangrypende stukke laat hy Jesus weer op aarde loop, gee hy ’n aardse kyk op Jesus uit ’n klomp mense se oogpunt. Meestal onwaarskynlikes: die hoëpriester Kajafas; Rafka, die bruid van Kana; die Griekse apteker Filémon, selfs Jesus se ouma.


Die Jesus wat hy voor ons laat afspeel, tref tussen die oë. Nie die swewende, wasige, sweeter-than-life Jesus van die Piëtisme nie. Nie die Puritanisme se Satan-behepte Jesus wat vir sondes lê en loer nie. Nie die cha­rismatici se bloederige Jesus wat elke Sondag weer aan die kruis sterf nie. Nie die Gereformeerde Jesus uit wie se mond volmaak geformuleerde dogmas borrel nie. Nee, dis Jesus wat met sy woorde mense op ver, onbekende paaie neem, hul harts­verlangens aanroer. Jesus wat met sy aanraking die koors in ’n sieke verras en laat padgee. Jesus wat vir ons ’n spieël hou om die onwaardiges en dié wat steier oppad na die kruin raak te sien. “Jou naaste is die ander jy, wat agter ’n muur bly”. Jesus wat, in Gibran se beautiful woorde sê: “Geseënd is hulle wat nie deur hulle besittings besit word nie, want hulle sal vry wees. En geseënd is die vredemakers, want hulle gees sal selfs die slagveld binnedring, en hulle sal ’n kleiland in ’n blomtuin omskep.”


Maar is Gibran nie die ou wat Die Profeet geskryf het nie? sal ’n paar lesers vra. En ’n paar sal dink hy was ’n Jood. Vir wat kom ’n Jood nou ’n boek oor Jesus skryf?


Ek dink ’n Jood sou maar regtig ’n boek oor Jesus kan skryf, aangesien Jesus self ’n Jood was. Maar nee, Gibran is ’n Siriese Christen uit Libanon. Sy Christelike spiritualiteit het in Arabies na hom gekom. Hy was by tye in die VSA waar hy Engels geleer het.


Nog meer mense sal vra: Lewe die man dan nog dat ons nou ’n Afrikaanse boekie van hom het? Gibran is in 1883 in Libanon gebore waar hy ook in 1931 in ’n klooster begrawe is. Hy was maar 48 jaar oud. Die Profeet het hy op 16 geskryf, Seun van die Mens vroeg in die 20ste eeu. Gerard Scholtz het dit in Afrikaans vertaal.


’n Mens kan dit veral met Kersfees lees en jou daarin verwonder, jou verlustig in die skoonheid, aanvoeling en innigheid van die aardse Jesus. Ons sien in Gibran se woordbeelde ’n gelukkige Jesus met charisma, wysheid en ’n lewenslus wat skrik vir niks. ’n Jesus wat daagliks opgestaan het vir die lewe, wat ander laat opstaan het. Terwyl ons ná 2 000 jaar nog in ekstase is oor Jesus se opstanding uit die dood, nooi dié boek ons om ons te verwonder aan hoe Jesus as mens was, hoe hy opgestaan het uit die doodsheid van sy tyd, sy armoede en politieke magteloosheid en die godsdienstige vaaltes van sy voorvaders. Geniet!


CHRISTINA LANDMAN is ’n teoloog.