Voorwoord: Seun van die Mens

Toe ek jonk was het almal Die Profeet van Kahlil Gibran gelees. Ek ook. En deur die jare het die wysheid van Almustafa by my gebly. Maar min was in daardie tyd oor Gibran bekend en baie mense het gedink hy is ‘n Midde-Oosterse mistikus – en van daardie gevaar moes ‘n mens baie ver wegbly!

‘n Ruk gelede sit ek in die buiteland en moet ek ‘n toespraak vir ‘n kollega skryf. Ek sukkel met die invalshoek, en toe kom een van Almustafa se wyshede by my op. Om doodseker te maak soek ek dit op die internet en daardie dag val ‘n hele nuwe wêreld voor my oop.

Vir die eerste keer lees ek dat Gibran uit ‘n antieke Christelike kerk in Libanon stam; dat hy op 6 Januarie 1883 naby die heilige vallei van die Seders van Libanon gebore is, dat sy voorvaders aan moederskant almal Christen priesters was, dat sy moeder, Kamila Rahmeh, haar diep godsdienstige oortuigings aan die jong Kahlil oorgedra het, en dat die fundamentele beginsels van die Christelike geloof van jongs af deur die lokale priester by hom ingeprent is.  

Hierdie priester het Gibran se ondersoekende en skerp gees raakgesien en het hom in Siries en Arabies onderrig. Deur hierdie informele opleiding het hy ‘n liefde vir tale, geskiedenis, en die wetenskap ontwikkel.

Ek ontdek ook dat Gibran talle ander boeke geskryf het, eers in Arabies en later in Engels, dat hy ‘n eerste uitgawe van Die Profeet op 16-jarige ouderdom in Arabies geskryf het, en dat een van sy boeke die titel dra van Jesus, Seun van die Mens.

Byna een honderd jaar later sit ek voor ‘n rekenaar en lees die volledige manuskrip van 79 hoofstukke – wat hy in 1913 geskryf het. Voor my oë ontsluit digterlike beelde en metafore, landskappe, karakters, stories en gelykenisse, in ‘n meesterlike vertelling. Soos monoloë wat voor my opgevoer word in Bybelse taal en idioom. Net daar het ek geweet hierdie boek moet in Afrikaans vertaal word. Ook om die lang en vervelige verpligte kantoorure te vul waar ek slegs twee ure per dag by ‘n somerskool moes klasgee, maar vir die hele dag moes besig lyk!

Die eerste probeerslag was moeilik – en sonder ‘n woordeboek op die koop toe! Ek het die manuskrip getrou probeer vertaal, maar Gibran se ou-wêreldse en swierige styl wou net nie op die Afrikaanse tong en oor val nie. Ook nie die flambojante, retoriese en blomryke Midde-Oosterse skryfstyl nie. Toe raai ‘n uitgewer-vriendin aan: doen dit in gewone, moderne Afrikaans vir die jongmense wat nie met Gibran grootgeword het nie, doen dit vir die ou aanhangers, vir almal.

Ek lees dat Gibran Jesus, Seun van die Mens, onder geweldige geestelike inspirasie geskrywe het. In sy biografie word dit trans-kanalisering genoem. Ek verkies om dit inspirasie van die Heilige Gees te noem. Elke woord het na hom gekom as hy stil voor God was. So is elkeen van die 79 hoofstukke geskrywe.

Gibran het nie ‘n maklike lewe gehad nie. As jong Arabies-sprekende seun is hy saam met sy moeder, stiefbroer en susters na Amerika waar hy as ‘n buitestaander altyd ‘n randfiguur gebly het. Daar het hy Engels geleer, begin skilder en dig, in kunstenaarskringe beweeg, en mettertyd aan drank verslaaf geraak. Hy het opgang gemaak in die literêre kringe en in Engels en Arabies gepubliseer. Van sy skilderwerk word met Bonnard, Carrière, Cézanne en Pissarro ten toon gestel.

Vanaf 1929, in sy middel veertigerjare, gaan hy fisies en emosioneel vinnig agteruit. Gedurende ‘n openbare lesing stort hy ineen en bely aan die gehoor dat hy sy kreatiewe vermoëns verloor het. Hy voel soos ‘n vulkaan waarvan die opening toegemaak is, verklaar hy.

Gibran sterf op 10 April 1931 in die ouderdom van 48 jaar nadat kanker in sy liggaam versprei het. Koerante verklaar: Die Profeet is Dood, die stad New York hou vir twee nagte ‘n nagwaak. Sy suster Mariana neem sy liggaam terug na Libanon. ‘n Indrukwekkende prosessie volg sy kis van die hawe van Beiroet tot in sy geboortedorp, Bsharri, waar hy onder groot belangstelling begrawe word. In sy testament laat hy ‘n groot bedrag na aan die mense van Libanon sodat hulle in hulle tuisland moet bly en nooit die land moet verlaat nie.

Sy finale rusplek is die Mar Sarkis Klooster waar hy in 1932 herbegrawe word. Daar is ‘n biblioteek en museum ingerig waar van sy besittings, skilderye en boeke bewaar is, maar wat vandag deur oorlog geskend en verwaarloos is.

Gibran, net soos die Jesus wat hy innig liefgehad het, is ‘n meester as dit kom by metafore en gelykenisse wat ons help om ons visie te verbreed, die onbekende te leer ken, en die raaisel in die spieël te verstaan. Die grootste waarhede word deur die eenvoudigste stories geopenbaar. Hierdie boek is ‘n storieboek oor Jesus, Seun van die Mens.

Gerard Scholtz
Rooiels
2007