LIG WANKELEND – Gerard Scholtz

VRAE vanaf Malene Breytenbach

Lig Wankelend is gebaseer op ’n ware verhaal. Waar het jy aan dié karakter, Utte, en haar hartseerverhaal gekom? Is sy familie van jou?

Utte was my buurvrou wat in 1949 na Suid-Afrika gekom het, na die oorlog. Sy het familie geword soos sy in my bloed, my kop, my hart, en my wese kom lê het toe ek beginne skryf het.

Jou navorsing is baie deeglik en uitgebrei. Het jy eers al jou navorsing voltooi, ’n raamwerk opgestel en toe begin skryf of het jy die verhaal geskryf en die navorsing as ’t ware ingetrek soos jy aangaan?

Die navorsing werk op drie vlakke. Eerstens is daar die historiese navorsing oor veral die Tweede Wêreldoorlog en die toestande daarna. Eers het ek ‘n noukeurige lewenslyn vir haar opgebou en dit teen historiese datums en plekke geplaas. As ek nou terugdink was die die moeilikste. Die tweede vlak is ingetrek soos wat ek aangegaan het. Utte was ‘n verbete navorser en ek het gedink dit is hoe sy dit ook sou gedoen het. Die derde vlak was eers later met die Duitse digter Rilke se werk wat ek ingebed het.

Jou verhaal spring ook van die hede na die verlede en terug, en is deurspek met herinneringe. Was dit vir jou moeilik of kon jy maklik kophou met die spronge in tyd?

Ek het die verhaal eers lineêr geskryf, maar niks daarvan gehou nie. Een nag het ek die manuskrip opgeknip en deurmekaar op die vloer uitgepak. Dit was asof ‘n geweldige kreatiewe mag oorgeneem het en die verledes en hede magies bymekaar gebring is. Toe ek Utte later in ‘n tehuis vir Alzheimerpasiënte plaas het dit nog beter gewerk soos verledes en hede, kontinente, gedigte, oorloë, alles, inmekaar gevloei het. Ek moes hard dink en werk om die oorgange te laat vloei.  

Hoe lank het jy gewerk en het jy soms vasgehaak? (Writer’s block gekry?)

Dit het my 10 jaar geneem. Die meeste is in die buiteland geskryf en dit was ‘n baie eensame pad. Daar was niemand met wie ek daaroor kon gesels nie en soms het ek dit tot ‘n jaar gelos. Gelukkig is die boek van so ‘n aard dat ek los en vas en dan hier en dan daar daaraan kon skryf - een van die redes waarom ek dit ‘n verstrooiingsroman noem.