Gerard Scholtz


Brief van Pieter Stoffberg

April 14, 2013
Gerard, dankie vir 'n boek wat my end-uit saamgeneem het, sonder dat ek 'n beplande voorneme gehad het om dit te lees.  Uit kort passasies wat my vrou op 'n Saterdagoggend in die bed uit Lig wankelend aan my voorgelees het, het ek die indruk gekry dat dit goed geskryf is en toe ek uiteindelik die boek by haar afneem en verder lees, was ek nie teleurgestel nie en weet nie hoe jy dit regkry om sulke lang sinne te gebruik, wat natuurlik maar die manier is hoe soos ons dink, partykeer sonder leestekens en soms onsamehangend, behalwe dat jy dit doen sonder dat 'n mens met die eerste lees daarvan besef dat dit alles een lang sin was wat tot op die einde  heeltemal sin maak.
Ek het gehou van die vertellerspersperspektief in die eerste persoon.  Ek kan nie aan enige deel van die boek dink wat my gepla het of nie heeltemal oortuig het nie. My vrou het gemeen dat dit merkwaardig is vir ‘n man om ‘n vrou se gedagtegang en binnewêreld so goed te beskryf. Die navorsingsparagrawe is, wat my betref, heeltemal in plek en versterk die narratief.  Die afwisseling met briewe, koerantberigte ensovoorts en die gemaklike oorgang tussen verskillende tye is baie effektief en lees moeiteloos. Die datums by terugflitse maak dit maklik om die tydspronge te volg. Na die lees van die boek kon ek nie onthou dat dit in hoofstukke ingedeel was nie en kon, wat my aanbetref, daarsonder klaarkom. My vrou verskil hieroor.
Jou boek het my sterk herinner aan die boekie van Paul Auster; Letters from the Scriptorium. Ek weet nie of jy dit al ooit onder oë gehad het nie, maar jy sal dit geniet om te sien hoe hy dit ook vanuit die oogpunt van ‘n Alzheimerlyer aanpak. Dit is geskryf met meer klem op die op-die-oomblik dilemma van die Alzheimerpasient. Naamlik: Waar is ek? Is die deur van my kamer oop of is dit gesluit? Wie is dit wat my wil toesluit? Hoekom? Tematies stem Lig wankelend vir my ook baie ooreen met Sophie’s choice, al is dit natuurlik twee uiteenlopende verhale.
Ek het ook die paar resensies gelees wat op internet te vinde is.  Met almal stem ek grootliks saam, maar ek dink byvoorbeeld nie dat jy die karakter Christiaan eensydig in ‘n swak lig stel nie. Uiteindelik kan ‘n mens nie anders as om ook deernis met hom te hê nie.  Hy is saam met Utte deur haar verlede gemaal en op ‘n manier het hy vir Utte werklik liefgehad, selfs bo sy vermoë of verstaan daarvan.
Die een resensent waarmee ek geen raakpunte het nie, is Cilliers van den Berg.  Elke negatiewe oordeel wat hy een na die ander opstapel, is ongeregverdig en loutere onsin.  Die kop van die resensie is negatief en die neerbuigende 'advies' waarmee dit afsluit, is grotesk en seker genoeg om jou behoorlik kwaad te maak.  Ek stem glad nie saam nie.  Ek het niks melodramaties in jou boek gevind nie. Jou taalgebruik is allermins geforseerd, wat nog van 'uitermate' so.  Ek het trouens groot  bewondering vir hoe jy kan skryf.
 Waarmee ek die meeste probleme het in  van den Berg  se resensie, is sy oordeel  dat jou ‘fiktiewe inkleding’ van Utte se storie,  nie slaag om op ‘ernstige en suksesvolle wyse daarmee om te gaan nie.’  Dan verwys hy ook na die “ware” Utte in aanhalingstekens, impliserend dat die ware verhaal iets sou wees om oor te vertel, maar jou weergawe daarvan nie.  Dit is asof hy daarmee ‘n streep wil trek deur die relevansie en waarde van jou boek.
Hierteen reageer ek sterk.  Ek was met die lees van jou boek ontroer oor hoe jy die ontsetting van ‘n oorlog op ‘n baie gestroopte manier beskryf.  Veral die verlossingsopsie van die  priester  en die uiteindelike vlug uit Riga, het my geruk.  Ek kan my indink dat so ‘n ervaring, saam met al die ander blootstellings in ‘n oorlog, by ‘n mens sal bly.  Dit is tragies om te sien, in jou boek, maar ook in die lewens van mense om ons, dat onverwerkte slegte ervarings lewenslange nadraaie het.  Dit is vernietigend vir die spesifieke  persoon en ook vir dié wat te naby is om betyds, of enigsins, te wil, of kan, wegstaan. 
Ek het altyd gedink dat ‘n mens se vermoë om sy reuse te trotseer – to face the music – die belangrikse eienskap is wat  mense se oorlewing in die wêreld bepaal.  Om jou emosionele bagasie suksesvol neer te sit en agter te laat, is natuurlik die eerste deel  daarvan.  Jou boek help ons om dit weer te besef, iets daarvan beter te verstaan. 
‘n Ander baie sterk tema is om ons  te bedag te maak op hoe ontheemd eerste generasie immigrante in hulle nuwe land is. Ek kan nie presies onthou waar dit staan nie, maar ek het daarvan gehou hoe jy beskryf dat Utte die kleurintensiteit van ons sonlig verwens en verlang na die wit son van Europa. Ek het ‘n Poolse vriendin wat, ten spyte van liefdevolle aanvaarding en ‘n wonderlike gesin, ook sukkel om hier aan te pas. Binne konteks van die grootskaalse diaspora van Suid-Afrikaners kan dit ons motiveer om ook begrip te hê vir ons mense wat, net soos Utte, terugverlang en dalk nooit heeltemal in die vreemde sal aanpas nie.
‘n Derde tema wat my tot nadenke stem, is hoe maklik mense hulle uiteindelik alleen in die wêreld kan bevind, hoe belangrik dit is om nie dié wat aan ons toevertrou is, te versaak nie
Hoop ons hoor weer gou van jou met ‘n volgende boek.
Groete
Pieter Stoffberg 
12 April 2013  
stoffberg@megaweb.co.za

 

TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE 48.2 2011

August 8, 2011

Lig wankelend.

Gerard Scholtz. 2010. Kaapstad: Queillerie. 224 pp. ISBN: 978-0-7958-0015-3.

 

Lig wankelend is Gerard Scholtz se debuut- roman. Die roman volg die lewensverhaal van Utte Reuter wat na die Tweede Wêreld- oorlog uit Duitsland vlug en op 24 November 1949 in die Kaapstadse hawe aanland. Utte kom na Suid-Afrika om die verwoesting van haar tuisland te ontvlug en om met die broer van haar penvriendin, Christiaan Hofmeyr, te trou. Die roman bevat geen komiese tonele nie en die leser word deurentyd bewus ge- maak van die werklikhede van die oorlog.

 

Lig wankelend kan gelees word as geskiedskrywing in romanvorm wat as sodanig aansluit by die groot korpus Afrikaanse tekste wat gelees word binne die debat aangaande narratief, identiteit en versoening. Hierdie debat handel oor die moontlikheid dat die oorvertel van verhale uit ’n gewelddadige verlede kan lei tot versoening tussen die be- trokke groepe deur die kollektiewe skuld en trauma aan te durf en te verwerk. Scholtz benader egter die geskiedenis vanuit die oogpunt van die individu. Hierdie tipe benadering word onder andere in die oeuvre van John Miles aangetref en dit is opvallend dat Lig wankelend dieselfde patroon as John Miles se Voetstoots volg wanneer die outeur bieg dat hy, soos Miles, die roman anders sou kon laat eindig, maar gekies het om die ge- beure aan te pas. Die fokus van die roman is die geskiedenis van Utte Reuter wat afspeel teen die agtergrond van die Tweede Wêreld- oorlog. Scholtz beklemtoon met ander woor- de die impak en trauma van die oorlog in die lewe van ’n enkele persoon, eerder as om op die kollektiewe impak te fokus.

 

Die vertelling word afwisselend aangebied deur twee eerstepersoonvertellers, naamlik Utte se buurman (hoofstukke 1 en 16) en Utte self wat in die grootste deel van die roman aan die woord is. Wanneer die roman begin, besoek die buurman die kliniek waar Utte versorg word nadat sy met alzheimersiekte gediagnoseer is. Vanaf hoofstuk 2 is Utte aan die woord en begin sy om, deur middel van terugflitse, inligting oor haar persoonlike geskiedenis oor te vertel. Utte se geskiedenis is gelyktydig fassinerend en ontstellend. Scholtz verbloem nie die brutaliteit van die oorlog nie en sy intense beskrywings van insidente maak die leser op ’n ontnugterende wyse bewus van die traumatiese realiteite van dieTweedeWêreldoorlog.Utteasdieverteller en die figuur wat reeds in die subtitel van die roman “Die wese van die liefde en lewe van Utte Reuter ” vermeld word, versterk die outo- biografiese aard van die roman. Uit die erkennings aan die einde van die roman dui Scholtz aan dat die subtitel gedeeltelik aan ’n boek van Rilke geleen is: Die Weise von Liebe und Tod des Cornets Christoph Rilke. Daar word nie met hierdie intertekstuele verwysing na Rilke in die subtitel volstaan nie, aangesien daar ook verskeie vrye vertalings van Rilke se gedigte in die teks aangetref word.

 

Uit artikels wat oor Rilke se lewe handel, wil dit voorkom asof Rilke en Utte dieselfde tipe ervarings in hul lewens meegemaak het. Rilke het uit Duitsland gevlug om die verwoesting van die Eerste Wêreldoorlog te ontsnap, maar het nooit werklik in enige ander land tuis gevoel nie. Sy lewe is ook gekenmerk deur ongesonde en gebroke verhoudings en die poësie wat hy geskryf het, het as instrument gedien om die trauma van sy lewe te verwerk. Utte vind aanklank by die poësie van Rilke en telkens word gedigte van Rilke by die teks ingesluit om haar emosies te verwoord.

 

Die gebeure vind nie in kronologiese volg- orde plaas nie. Scholtz gebruik leestekens asook die struktuur van die roman om die bewussynstroom van Utte voor te stel. In hoofstuk 3 is daar byvoorbeeld ’n paragraaf wat geen leestekens bevat nie – die hele paragraaf suggereer die aaneenloop van verskeie herinneringe. Gedagtes vloei aaneen van een hoofstuk na die volgende en elke nuwe gedagte gee aanleiding tot ’n volgende herinnering uit Utte se verlede. Die klem op herinnering en denke word verder voorgestel deur die minimale dialoog wat in die roman aangetref word. Die grootste hoeveelheid teks word weergegee vanuit Utte se gedagtes, met ander woorde wat Utte dink is belang- riker as wat Utte sê.

 

Die insluiting van die liefdesverhouding tussen Utte en Félix voeg ’n interessante ele- ment tot die roman by. Die leser is bewus daarvan dat Félix ’n belangrike rol in Utte se lewe gespeel het, maar die omvang van hulle verhouding word eers heelwat later in die roman blootgelê. Die leser kan wel gevolg- trekkings maak en besef gou genoeg dat Utte haar in ’n liefdelose verhouding met Chris- tiaan bevind terwyl haar hart steeds aan Félix behoort. Die insluiting van problematiese liefdesverhoudings maak die roman in ’n sekere mate meer toeganklik vir lesers wat nie noodwendig in geskiedskrywing belang- stel nie.

 

Lig wankelend bevat verskeie kenmerke wat met die postmodernisme geassosieer word. Die opvallendste hiervan is sekerlik die fragmentering van die narratief. Soos reeds genoem, bestaan die hele teks uit terugflitse na Utte se verlede wat af en toe afwissel met gebeure in die hede. Die fragmentering van die narratief word egter ook bewerkstellig deur die insluiting van ’n verskeidenheid dokumente in die teks. Die roman bevat gedigte, briewe, dagboekinskrywings, ’n koerantberig, ’n aantal definisies en beskry- wings uit wetenskaplike bronne en ’n resep vir “Blitzkuchen mit Apfeln”. Hierdie doku- mente word egter nie as losstaande elemente ingesluit nie, maar word deeglik met die res van die teks geïntegreer deurdat elke doku- ment verband hou met ’n spesifieke herin- nering en lig werp op die bepaalde herin- nering. Die insluiting van addisionele dokumente het met ander woorde ’n verklarende funksie deurdat hulle agtergrondsgegewens aan die teks toevoeg.

 

Sommige van die ingeslote dokumente het ook ’n tweede funksie, naamlik konkretisering. Die insluiting van definisies en beskrywings konkretiseer nie net die geskiedkun- dige gebeure en stede waarna verwys word nie, maar die beskrywings van veral diere en plante konkretiseer die emosies wat Utte beleef. ’n Voorbeeld hiervan is die verwysing na die slang, “Bitis arietans”. Christiaan word in ’n baie negatiewe lig aan die leser be- kendgestel en Utte ervaar Christiaan ook op ’n negatiewe manier. Die bepaalde siening wat Utte van Christiaan het, word gevolglik in die definisie verwoord: “Bitis arietans. ’n Stadige, humeurige slang wat maklik omgekrap raak en dan blaas en pof. As dit gesteur word, kan dit vinnig in alle rigtings pik.” (p.13)

 

Die verheerliking van die alledaagse is ’n tweede opvallende kenmerk van die roman. Utte se belewenisse word op ’n baie intense manier beskryf en gevolglik word die veelseggendheid van die eenvoudige beklemtoon. Utte het reeds so baie in haar lewe verloor en daarom beklemtoon Scholtz deur middel van hierdie intense beskrywings die belangrikheid van selfs die kleinste gebeurtenis of belewenis.

 

Uiteindelik is Lig wankelend ’n interessante en boeiende vermenging tussen geskiedskrywing en die biografiese verhaal van ’n enkele persoon se stryd om die trauma van die verlede te verwerk. Die insluiting van die groot verskeidenheid dokumentasie voeg interes-sante afwisseling toe aan die teks, maar is soms oorweldigend en kan daarom die leesproses bemoeilik.

Lezandra Thiart

Universiteit van Pretoria, Pretoria

TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 48 (2) • 2011

 

Resensie DEKAT Maart 2011 deur Danie Botha

March 21, 2011

GERARD SCHOLTZ: LIG WANKELEND: DIE WESE VAN DIE LIEFDE EN LEWE VAN UTTE REUTER. Queillerie 2010

 In 1939 skryf N.P. van Wyk Louw oor die gunstigste geestesgesteldheid om verhoogtoneel werklik te waardeer. Sy woorde kan ’n mens ook van toepassing maak op die lees van hierdie roman. Watter mense sal dit waardeer?

 “Almal wat smart ken, wat nog rusteloos is … wat in geslagtelike en ander sake onbevredig is … almal wat om iets onbereikbaars treur, almal wat die metafisiese smart, die eintlike skoonheidsverlange, ken…”

 Want dié lesers sal hulle kan identifiseer met die verteller in die boek, sy wat ook ’n lewe van onvervulde liefde gehad het, wat uitgereik het na ’n onbereikbare geliefde.

 Ons verkeer in die geselskap van Utte Reuter. In die hede is sy verwyder  van die natuur, van berg en plante, diere en voëls by ‘n stranddorp, dit wat sy so intens beleef het, navorsing oor gedoen het. Sy is ingeperk agter die veiligheidshek van die alzheimer-afdeling in ’n ouetehuis.

 In die werklike lewe was Gerard Scholtz ‘n buurman op Rooiels van dié merkwaardige vrou. Aan die hand van dokumentasie, gesprekke en herinneringe laat hy haar haar lewensverhaal vertel. Reeds op bladsy 6 is daar die ontroerende herkenningstoneel in die ouetehuis tussen hulle twee:

 Sy soek en tas en probeer die verlede deur newels vasgryp. Probeer onthou. Sy steek haar hand uit. Vat aan my gesig.

Toe fluister sy my naam en gryp my vas. Laag en skor, die stem van iemand wat lankal nie meer praat nie.

 Sy roep haar verlede op, a-chronologies, want dis herinneringe wat ’n eie koers kies. Daar is haar jeug in Duitsland. Haar ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog kom veral helder en ontstellend na vore. Een van die vele indrukwekkende tonele is bv. op bl. 35 waar sy saam met ander verpleegsters aan die Oosfront voor ’n verskriklike werklikheid gestel word: of verkrag, geskend en doodgeskiet word deur die oprukkende Russe, of die veldprediker skiet hulle – “die dood is God se genadeoffer”. En toe was daar Bad Kreuznach, die opelug-konsentrasiekamp van die Geallieerdes vir Duitsers waar sy die verpleegassistent geword het van ‘n Franse snydokter Felix Fauré, hy met die donkerbruin oë “soos ryp kastaiings”. 

 Christiaan Hofmeyr bied haar ’n uitkoms: Trou met hom en sy kan makliker en gouer na Suid-Afrika kom. Maar haar lewe is vol ironieë, vol teenslae. Dis nié ‘n uitkoms nie. In die land waar sy haar nie tuis voel nie, ontwikkel ’n vernietigende wanverhouding tussen hulle. Hy met sy sombertes, donker buie; ongedurigheid; huweliksontrou neem toe. Haar twee seuns bring ook nie volledige vervulling nie. Haar soektog na haar geliefde dokter Felix was onsuksesvol. Geestelik gaan sy al hoe meer agteruit. Wanneer en hoe het sy finaal oor “die  afgrond” gegaan?

 

In hierdie roman is daar op elke bladsy bewyse van kreatiewe skryfwerk. Scholtz sal in ‘n sin met iets bekends, alledaags begin en dan met ‘n spesifieke woordkeuse of sinswending dit in iets ongewoons, verrassends omskep. Sonder – en dis belangrik – dat dit opdringerig of verwarrend of pretensieus raak.

 Hier word ook alledaagshede beskryf wat seker nog in geen ander Afrikaanse prosawerk voorkom nie.Lees maar die akkurate beskrywing van die huisbouwerk, die tuinmakery en veral die versorging van die teëls. Baie natuurtonele word saaklik en stemmingsvol opgeroep waarvan die walvistoneel op bl. 31-32 en die suidooster op bl. 45 seker die indrukwekkendste is. Sulke tonele se lewensbeskoulike, simboliese toepaslikheid is dikwels ook duidelik.

 Ongewoon is die inligtingsgedeeltes (oor geskiedesnis, geografie, fauna en flora, ens.) wat tipografies van die hoofteks onderskei word en naslaanmoeite vir die leser bespaar. Dis funksioneel as illustrasies van Utte se navorsing en sorgvuldige aantekeninge.

 ‘n Laaste voortreflikheid: Scholtz wat sintakties en stilisties die spraakritmes en gedagtestrome realisties-boeiend weergee:

 Daardie nag, die volmaan was hoog, wolke het met ’n ontstellende spoed oor die berg en die naglandskap gerol, toe klop my kop vol musiek.

 

647 woorde

Danie Botha

 

 

   

  

 

Die Burger 26.07.2010 Resensie deur Cecile Cilliers

July 27, 2010

LIG WANKELEND – DIE ­WESE VAN DIE LIEFDE EN LEWE VAN UTTE REUTER deur Gerard Scholtz

Maandag 26 Jul 2010, 23:09      
 
Cecile Cilliers
So ’n mooi buiteblad, wit, grys en swart, en ’n vrou met ’n regop rug, haar blik op die see voor haar, staande, nee, ­gebalanseer, op die “i” van die titel: Lig wankelend. Mooi titel ook, want fyn gebalanseer was die lewe van Utte Reuter, soms wel in die lig, ja, maar meermale nie, en nooit heeltemal in ewewig nie.

Met behulp van dagboeke, ­briewe, ­foto’s en bandopnames het Gerard Scholtz sy raamwerk geskep, die buitelyne van ’n lewe. Sommige feite en ­stories, skryf hy in die “Erkennings”, het hy woordeliks aangehaal, ander moes hy aanpas en verwerk. En (mooi ­gestel): Ander het my verlei. Dit is wat die ­storieverteller ­onderskei – hy laat hom verlei deur oomblikke in die lewe van ­ander mense. In hierdie boek doen Scholtz meer as dit. Deur hierdie lewe te beskryf, ontruk hy Utte aan die ­vergetelheid, haar eie en dié van ander. Hy gee aan haar die ­status wat die lewe uiteindelik van haar weggeneem het. Want Utte eindig in ’n tehuis vir Alz­heimer-lyers – gestroop van alles, ­af­geskei van die lewe in ’n steriele ­vakuum van ’n wit niks.

Op 24 November 1949 kom Utte ­Reuter alleen in Kaapstad-hawe aan; saam met haar dra sy twee pakkies briewe en ’n digbundel van Rilke. Sy is hier om te trou met Christiaan Hofmeyr, die broer van haar penvriendin, wat ’n uitkoms bied van die ver­skrikking en nadraai van die Tweede Wêreldoorlog. Aldus die flapteks. Maar Utte kom nooit werklik in Afrika tuis nie. Ten spyte van haar belangstelling in haar tuin, haar verworwe kennis van die bome, plante, voëls, die diertjies wat haar tuin bewoon, bly sy ’n ontheemde, hunker iets in haar altyd terug na Duitsland. Miskien ­omdat sy altyd die gesig van haar beminde Félix agter die toe venster sien. Wagtend op haar.

Haar huwelik is nie ’n dawerende sukses nie, maar wanneer sy op ’n dag op besoek na Duitsland ­terugkeer, vind sy haar daar ook nie meer tuis nie. Sy staan lig ­wankelend tussen twee ­wêrelddele.

Behalwe vir die openingshoofstuk en die slot, vertel Utte self haar storie, en Scholtz gee aan haar ’n liriese stem.
Haar gedagtes word dikwels in die vorm van ­poësie neergeskryf, en die aaklige tye in haar lewe – verpleegster op die slagveld, honger, verkragting, verraad – word deur hierdie vertelstem gesublimeer. ’n Beskaafde, begaafde vrou kom te voorskyn. Maar mettertyd word die goeie dae – haar tuin, haar seuns – deur kwade herinneringe verdring: Hoeveel bloed en dood en angs kan die menslike siel per slot van ­rekening verduur ? En mettertyd neem ’n bepaalde raserny oor. Totdat ­Christiaan verplig voel om haar in ’n ­tehuis te plaas.

Al is die roman glo nie heeltemal ­feitelik korrek nie (die skrywer het ­immers die reg om hom te laat verlei) is dit in alle opsigte ’n ware verhaal, want waarhede word ­ontbloot wat beide ­ontroerend én onthutsend is. Die wese van die liefde en lewe van Utte Reuter (subtitel van die boek en ook aan Rilke ontleen), stel die leser bloot aan on­sekerheid, verlange, liefde, vrees en angs wat eindelik in ’n verskriklike eensaamheid oorgaan. Ek kon nie deur die ­gebreekte blou oë sien nie, skryf die verteller. Maar hy het wel tot in haar siel gekyk, en die leser in daardie blik laat deel. ’n Besonderse lees­ervaring.

QUEILLERIE-UITGEWERS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 216 BLADSYE.)
Cecile Cilliers is ’n vryskut-resensent.
 

Die Burger - Seun van die Mens resensie 15.12.08

July 20, 2010
CHRISTINA LANDMAN

Ons maak te min van Jesus se aard­se lewe, vertel te min hy het aan mense gevat wanneer hy hulle genees het, vergeet hy het saam met hulle geëet wanneer hy sy wys­­hede gedeel het. Dat, wanneer hulle seer was, hy hul pyn diep en innig aangevoel het. Dis wat teoloë ons vandag vertel: Bekoor en beklee julle met die aardse Jesus ook.


Kahlil Gibran het dit met Seun van die Mens gedoen. In 78 aangrypende stukke laat hy Jesus weer op aarde loop, gee hy ’n aardse kyk op Jesus uit ’n klomp mense se oogpunt. Meestal onwaarskynlikes: die hoëpriester Kajafas; Rafka, die bruid van Kana; die Griekse apteker Filémon, selfs Jesus se ouma.


Die Jesus wat hy voor ons laat afspeel, tref tussen die oë. Nie die swewende, wasige, sweeter-than-life Jesus van die Piëtisme nie. Nie die Puritanisme se Satan-behepte Jesus wat vir sondes lê en loer nie. Nie die cha­rismatici se bloederige Jesus wat elke Sondag weer aan die kruis sterf nie. Nie die Gereformeerde Jesus uit wie se mond volmaak geformuleerde dogmas borrel nie. Nee, dis Jesus wat met sy woorde mense op ver, onbekende paaie neem, hul harts­verlangens aanroer. Jesus wat met sy aanraking die koors in ’n sieke verras en laat padgee. Jesus wat vir ons ’n spieël hou om die onwaardiges en dié wat steier oppad na die kruin raak te sien. “Jou naaste is die ander jy, wat agter ’n muur bly”. Jesus wat, in Gibran se beautiful woorde sê: “Geseënd is hulle wat nie deur hulle besittings besit word nie, want hulle sal vry wees. En geseënd is die vredemakers, want hulle gees sal selfs die slagveld binnedring, en hulle sal ’n kleiland in ’n blomtuin omskep.”


Maar is Gibran nie die ou wat Die Profeet geskryf het nie? sal ’n paar lesers vra. En ’n paar sal dink hy was ’n Jood. Vir wat kom ’n Jood nou ’n boek oor Jesus skryf?


Ek dink ’n Jood sou maar regtig ’n boek oor Jesus kan skryf, aangesien Jesus self ’n Jood was. Maar nee, Gibran is ’n Siriese Christen uit Libanon. Sy Christelike spiritualiteit het in Arabies na hom gekom. Hy was by tye in die VSA waar hy Engels geleer het.


Nog meer mense sal vra: Lewe die man dan nog dat ons nou ’n Afrikaanse boekie van hom het? Gibran is in 1883 in Libanon gebore waar hy ook in 1931 in ’n klooster begrawe is. Hy was maar 48 jaar oud. Die Profeet het hy op 16 geskryf, Seun van die Mens vroeg in die 20ste eeu. Gerard Scholtz het dit in Afrikaans vertaal.


’n Mens kan dit veral met Kersfees lees en jou daarin verwonder, jou verlustig in die skoonheid, aanvoeling en innigheid van die aardse Jesus. Ons sien in Gibran se woordbeelde ’n gelukkige Jesus met charisma, wysheid en ’n lewenslus wat skrik vir niks. ’n Jesus wat daagliks opgestaan het vir die lewe, wat ander laat opstaan het. Terwyl ons ná 2 000 jaar nog in ekstase is oor Jesus se opstanding uit die dood, nooi dié boek ons om ons te verwonder aan hoe Jesus as mens was, hoe hy opgestaan het uit die doodsheid van sy tyd, sy armoede en politieke magteloosheid en die godsdienstige vaaltes van sy voorvaders. Geniet!


CHRISTINA LANDMAN is ’n teoloog.
 

Die Huisgenoot 8.07.2010

July 13, 2010

ONTHOU 'N LEWE

 

DEUR HANNELIE BOOYENS

SOMMIGE skrywers loop rond met ’n magdom stories in hul kop. Ander het eintlik net een storie waarmee hulle jare lank worstel. Gerard Scholtz is só ’n skrywer, en op ’n rype 61 het hy sy skrywersdroom uiteindelik verwesenlik met ’n baie besonderse boek.

Die storie wat hy wou opteken is ’n ware verhaal – ’n aangrypende liefdesdrama wat oor dekades  afgespeel het en nou vertel word in Lig Wankelend – Die Wese van die Liefde en Lewe van Utte Reuter.

Dis nie sy Duitse vriendin se ware naam nie, sê Gerard. Hy moes nogal skaaf aan die gegewens om haar identiteit te beskerm ter wille van haar familie, selfs nou ná haar dood. Maar aan die harde feite van haar lewe het Gerard nie verander nie. Van hoe sy as jong vrou uit die verskrikking van die Tweede  Wêreldoorlog ontsnap het om hier te trou met ’n Afrikaanse man uit ’n gesiene familie. Van hoe sy nooit werklik in Suid-Afrika kon aanpas nie en altyd maar bly hunker het na die Europa van haar jeug. Haar huwelik het met die jare net stormagtiger geword en nie ’n dag het verbygegaan dat sy nie verlang het na haar jeugliefde, Felix Fauré, nie. Felix wat maar altyd agter ’n venster staan en wag…

Aanvanklik sou Gerard sy eertydse buurvrou se biografie help skryf. Sy was gretig om haar veelbewoë lewe te boekstaaf en het haar dagboeke en briewe vir Gerard beskikbaar gemaak. Toe sy later siek word, het haar lewensverhaal ’n loop van sy eie begin neem, vertel hy. Hy het “Dit was vir my ’n groot ding. Ek kan die dag goed onthou toe ek uiteindelik my innerlike stem gevind het. Ek het hier in my studeerkamer gesit met die uitsig op die see en voor ons huis is ’n wildekamferbos. Ek het gewag vir die regte invalshoek en skielik tref die reuk van die wildekamferbos my en ek sien die swaels hier verbyvlieg. Toe’s dit byna soos ’n psalm; die mineurtoon van die boek is op daardie oomblik vasgelê.”

Utte se storie word deur terugblikke vertel. Haar gelukkige jeugjare word afgewissel met grusame ervarings in die oorlog en haar worsteling om in ’nvreemde land aan te pas. Hier in Suid-Afrika is haar siel opnuut geknak deur ’n verstikkende politieke bestel en ’n liefdelose huwelik. Haar verhaal word vertel vanuit haar laaste tuiste: die wit kamer in die tehuis waar sy opgeneem is vir Alzheimer-siekte.

Haar herinnerings en emosies word soms baie poëties uitgedruk en ander kere is daar kort verklarings van dinge – soos ’n feitelike opsomming van die bomaanval op Dresden of ’n uiteensetting van iets soos die siekte spinale polio

Dis ’n huldeblyk aan die vrou wat die boek geïnspireer het omdat sy self so ’n verbete navorser was, verduidelik Gerard. “Sy het haar lewe lank altyd navorsing gedoen oor alles en nog wat. As ons hier in die omgewing ’n vreemde blom ontdek het, kon ons maar net by haar gaan aanklop en sy sou groot moeite doen om uit te vind watter soort blom dit is. Alles moes altyd so korrek beskryf word.”

Die karakter in Lig Wankelend kom na Suid-Afrika met karige besittings en in haar tas ’n bundel van die Duitse digter Rilke. Rilke se poesië was die inspirasie vir die meer liriese gedeeltes in die boek. Gerard beskryf sy skryfstyl as “filmies”, ’n oorblyfsel van sy agtergrond as dramadosent en teaterregisseur. “Ek is baie gesteld daarop dat emosies en denkprosesse lewendig gemaak moet word. Dis asof ek ’n wysie in my kop hoor en dan val die frases so in ’n patroon.”

Omdat Gerard dikwels aan die boek geskryf het terwyl hy oorsee was, het hy hom die karakter se verlange na haar hartland goed kon voorstel. “Ek het voor my geestesoog die fynbos gesien, die paadjies wat sy geloop het. En hoe anders dit was as die Europa wat sy agtergelaat het.”

Gerard beskryf homself as ’n “verstrooiingsmens”, iemand wat tuis voel tussen teenstrydige en uiteenlopende kulture en idees. Hy wou in sy boek uiterstes en kontraste uitbeeld, hoe die karakter tussen lande en ervarings moes spronge maak. “Ook van een oorlog na ’n ander konfliksituasie hier in Suid- Afrika. Utte was in die hart van die nasionalistiese vergrype in Nazi-Duitsland, en toe sy in 1949 na Suid-Afrika kom, tref sy dieselfde nasionalisme hier aan. Iets soos die inwyding van die Voortrekkermonuement was vir haar ’n verskrikking.” Hoewel hulle nie aktief betrokke was by die skryfproses nie, was dit vir Gerard belangrik dat haar kinders, wat oorsee woon, kennis neem dat hul ma se lewensverhaal  geboekstaaf is. Hy was verlig toe hulle hul seën uitspreek oor sy pennevrug.

Gerard was maar skrikkerigtoe hy sy boek die dag aan ’n uitgewer voorlê, maar die gr ootste verrassing was dat so min van sy oorspronklike teks verander is, sê hy ingenome. “Toe ek besef my boek gaan  uitgegee word, was dit ’n effense skok om te weet my gedagtewêreld gaan nou openbaar gemaak word. Maar toe besef ek ek moet my nou losmaak vandie storie. Dis eintlik ’n goeie gevoel om te weet die naelstring is nou geknip.”

DAT Gerard hom so goed kan identifiseer met iemand wie se hart bly smag na ’n ander land, is nie toevallig nie. Niks is vir hom en sy vrou, Anuta, lekkerder as om hul tasse te pak en verre lande te verken nie. Hulle het al fiets getrap deur die hele Europa, Engeland en Ierland. Hulle is per fiets vanaf St. Petersburg tot in Moskou; die lengte van Frankryk – oor die Alpe – tot aan die Mediterreense See. Soms bring hulle tot ses maande op ’n slag in Europa deur en hulle het vir lang tye in die Ooste gebly en klasgegee. Dis juis op hul wêreldreise dat die skryfgogga Gerard gepak het. “Terwyl ons reis, skryf ek vir almal briewe. Ek’s dol daaroor om so ’n dik pak briewe huis toe te pos. En ek’s ’n freak as dit kom by dagboeke en rekordhou.”

Ná ’n lang loopbaan in die onderwys en as dramadosent het Gerard en Anuta op die kusdorp Rooiels kom aftree. “Ek het geweet ek sou my moes besig hou met iets en dis toe dat ek begin werk het aan my Duitse vriendin se lewensverhaal. Ek het begin skryf, dan opgehou en veel later weer begin skryf. Soms het ’n jaar verbygegaan waarin ek niks gekryf het nie, maar ek het nooit moedeloos geword nie. Ek het geweet dit is ’n ongelooflike storie en dit moet vertel word.”

Gerard het sy boek oor Utte ’n hele paar keer van voor tot agter oorgeskryf en dit het hom lank geneem om sy “innerlike stem” te vind. Hy het begin delf en die ure lange gesprekke wat hulle gevoer het, noukeurig begin opteken. En sy verbeelding vrye teuels gegee. Omdat hy al so dikwels in Europa gereis het, was dit nie vir hom moeilik om gestalte te gee aan die landskap van Utte se jeug nie. “Die vrou wat ek leer ken het, was ’n besonderse mens. Sy het nooit haar Duitsheid gelos nie. Sy het op Sondae haar Duitse klere aangetrek en Duitse koekies gebak – Blitzkuchen mit Apfeln – tot aan die einde. Sy’t met ’n Duitse aksent bly praat. Die hunkering het altyd  ebly. “En toe sy toe wel teruggaan, was dit nie na die Duitsland wat sy onthou het nie. Dit was ’n reuse ontnugtering.”

Hy het reeds begin werk aan ’n tweede boek, dié keer ’n baie ligter bundel reisverhale. “Dis oor alles wat verkeerd kan loop as jy die pad vat, want ek en Anuta het al op ons reise elke moontlike ramp beleef tussen al ons avonture deur.” Die egpaar het nie kinders nie en dit het hulle deur die jare vryhede toegelaat wat baie ander mense van hul ouderdom nie het nie, sê Gerard.

 

Hul lewe op Rooiels is baie bedrywig en wanneer hy nie skryf nie, doen Gerard publisiteit vir die Hermanuspietersfontein Wwynkelder. Hy skryf persverklarings, help met advertensieveldtogte en organiseer funksies. En Saterdae help hy vir Anuta by die plaaslike boeremark.

Hy en Anuta is al 33 jaar getroud en is steeds mekaar se beste maats. So onstuimig soos die liefdeslewe van Utte Reuter is, so ongekompliseerd is die Scholtze se huwelik. Om hom in te dink in die hartseer van ’n ongelukkige verhouding, was waarskynlik die grootste verbeeldingsprong wat Gerard met die skryf van sy eerste boek moes maak. Hy gee toe hoe ouer hy word, hoe meer besef hy dis ’n seëning om in ’n gelukkige verhouding te wees. En hoe meer deernis het hy met ’nvrou soos Utte Reuter wat haar lewe lank moes baklei vir liefde en geluk.

Die skryf van haar lewensverhaal was ’n liefdesdaad – en ’n storie wat die leser lank sal bybly. Gerard Scholtz het herinneringe van ‘n vriendin opgeteken en hieruit is sy debuutroman gebore Dis ’n ware verhaal – ’n aangrypende liefdesdrama wat oor dekades afgespeel het.


 

Skrywersgesprek Die Burger 5.07.2010

July 8, 2010

LIG WANKELEND – Gerard Scholtz

VRAE vanaf Malene Breytenbach

Lig Wankelend is gebaseer op ’n ware verhaal. Waar het jy aan dié karakter, Utte, en haar hartseerverhaal gekom? Is sy familie van jou?

Utte was my buurvrou wat in 1949 na Suid-Afrika gekom het, na die oorlog. Sy het familie geword soos sy in my bloed, my kop, my hart, en my wese kom lê het toe ek beginne skryf het.

Jou navorsing is baie deeglik en uitgebrei. Het jy eers al jou navorsing voltooi, ’n raamwerk opgestel en toe begin skryf of het jy die verhaal geskryf en die navorsing as ’t ware ingetrek soos jy aangaan?

Die navorsing werk op drie vlakke. Eerstens is daar die historiese navorsing oor veral die Tweede Wêreldoorlog en die toestande daarna. Eers het ek ‘n noukeurige lewenslyn vir haar opgebou en dit teen historiese datums en plekke geplaas. As ek nou terugdink was die die moeilikste. Die tweede vlak is ingetrek soos wat ek aangegaan het. Utte was ‘n verbete navorser en ek het gedink dit is hoe sy dit ook sou gedoen het. Die derde vlak was eers later met die Duitse digter Rilke se werk wat ek ingebed het.

Jou verhaal spring ook van die hede na die verlede en terug, en is deurspek met herinneringe. Was dit vir jou moeilik of kon jy maklik kophou met die spronge in tyd?

Ek het die verhaal eers lineêr geskryf, maar niks daarvan gehou nie. Een nag het ek die manuskrip opgeknip en deurmekaar op die vloer uitgepak. Dit was asof ‘n geweldige kreatiewe mag oorgeneem het en die verledes en hede magies bymekaar gebring is. Toe ek Utte later in ‘n tehuis vir Alzheimerpasiënte plaas het dit nog beter gewerk soos verledes en hede, kontinente, gedigte, oorloë, alles, inmekaar gevloei het. Ek moes hard dink en werk om die oorgange te laat vloei.  

Hoe lank het jy gewerk en het jy soms vasgehaak? (Writer’s block gekry?)

Dit het my 10 jaar geneem. Die meeste is in die buiteland geskryf en dit was ‘n baie eensame pad. Daar was niemand met wie ek daaroor kon gesels nie en soms het ek dit tot ‘n jaar gelos. Gelukkig is die boek van so ‘n aard dat ek los en vas en dan hier en dan daar daaraan kon skryf - een van die redes waarom ek dit ‘n verstrooiingsroman noem.

 

Scholtz maak musiek in eerste boek

July 8, 2010

Scholtz maak musiek in sy eerste boek

Lianda Beyers Cronjé

Die wordingsproses van Gerard Scholtz  van Rooiels se eerstelingboek  Lig wankelend het tien jaar geduur  - maar dan moet die leser ook aanvaar dat dit geen gewone boek is nie. Die aangrypende bio-roman wat pas deur Quellerie van NB-Uitgewers uitgegee is, handel oor die wese van die liefde en lewe van `n oud-inwoner van Rooiels, Utte Reutter wat na die Tweede Wêreldoorlog in Kaapstad aangekom het met twee pakkies briewe en `n digbundel van Rilke...

Die boek is Saterdagaand op die gereelde Rooiels skrywersbyeenkoms “Woorde in die Wind” wat deur Dine van Zyl (self `n skrywer) gereël word,  bekendgestel aan `n groepie vriende en kennisse.

Boekredakteur Ria Barnard wat die bekendstelling saam met die Overstrandse skrywer behartig het, sê van die boek: “ Ons is grensloos beïndruk met Gerard se boek. Die ritmiese styl in die boek skep opwellende musiek en `n mens moet mooi luister na die klanke.”

Barnard vind `n sterk verband tussen die betekenisvolle nuwe werk en die liriese styl van die Tjeggiese digter en skrywer Rainer Maria Rilke wat as een van die belangrikste digters in die Duitse taal geag word. Die ooreenkomste is geen toeval nie, aangesien die filosofie en werk van Rilke so belangrike rol gespeel het in die lewe van die hoofkarakter Utte Reuter, `n buurvrou van Scholtz in Rooiels.

Die sterk tematiese in die lewe van Utte Reutter handel oor  die verlange, onthuising, ontheemding en melankolie van `n vrou wat immer gehunker het na die vaderland waarheen sy nie kon terugkeer nie en uiteindelik met haar tuiskoms daar moes vind dat sy ook nie meer daar hoort nie.

Scholtz self verwys na die boek as `n verstrooiingsroman wat nie alleen dui op die ontheemding van die hoofkarakter tussen land, taal, kultuur, besittings en familie nie maar ook op die ontmensliking van oorlog en die verstrooiingseffek daarvan en uiteindelik die verstrooiing van die gedagtes van die Alzheimerlyer wat bly wissel tussen hede en verlede.

Die gebruik van magiese realisme in die boek vind inslag in beelde soos dié van die engele en vlerke wat `n groot rol in die boek speel.

Scholtz se Lig wankelend lees soos poësie - `n onbewustelike stroom van gedagtes wat beeld en ritme word – en in die suiwer skoonheid daarvan die paradoks van die skreiende boodskap van verstrooiing vasvang.

Gerard is Saterdae die bekende gesig agter die wyntafel van die Hermanuspietersfontein Kos en Wynmark.

 

 

Seun van die Mens - Voorwoord

July 8, 2010

Voorwoord: Seun van die Mens

Toe ek jonk was het almal Die Profeet van Kahlil Gibran gelees. Ek ook. En deur die jare het die wysheid van Almustafa by my gebly. Maar min was in daardie tyd oor Gibran bekend en baie mense het gedink hy is ‘n Midde-Oosterse mistikus – en van daardie gevaar moes ‘n mens baie ver wegbly!

‘n Ruk gelede sit ek in die buiteland en moet ek ‘n toespraak vir ‘n kollega skryf. Ek sukkel met die invalshoek, en toe kom een van Almustafa se wyshede by my op. Om doodseker te maak soek ek dit op die internet en daardie dag val ‘n hele nuwe wêreld voor my oop.

Vir die eerste keer lees ek dat Gibran uit ‘n antieke Christelike kerk in Libanon stam; dat hy op 6 Januarie 1883 naby die heilige vallei van die Seders van Libanon gebore is, dat sy voorvaders aan moederskant almal Christen priesters was, dat sy moeder, Kamila Rahmeh, haar diep godsdienstige oortuigings aan die jong Kahlil oorgedra het, en dat die fundamentele beginsels van die Christelike geloof van jongs af deur die lokale priester by hom ingeprent is.  

Hierdie priester het Gibran se ondersoekende en skerp gees raakgesien en het hom in Siries en Arabies onderrig. Deur hierdie informele opleiding het hy ‘n liefde vir tale, geskiedenis, en die wetenskap ontwikkel.

Ek ontdek ook dat Gibran talle ander boeke geskryf het, eers in Arabies en later in Engels, dat hy ‘n eerste uitgawe van Die Profeet op 16-jarige ouderdom in Arabies geskryf het, en dat een van sy boeke die titel dra van Jesus, Seun van die Mens.

Byna een honderd jaar later sit ek voor ‘n rekenaar en lees die volledige manuskrip van 79 hoofstukke – wat hy in 1913 geskryf het. Voor my oë ontsluit digterlike beelde en metafore, landskappe, karakters, stories en gelykenisse, in ‘n meesterlike vertelling. Soos monoloë wat voor my opgevoer word in Bybelse taal en idioom. Net daar het ek geweet hierdie boek moet in Afrikaans vertaal word. Ook om die lang en vervelige verpligte kantoorure te vul waar ek slegs twee ure per dag by ‘n somerskool moes klasgee, maar vir die hele dag moes besig lyk!

Die eerste probeerslag was moeilik – en sonder ‘n woordeboek op die koop toe! Ek het die manuskrip getrou probeer vertaal, maar Gibran se ou-wêreldse en swierige styl wou net nie op die Afrikaanse tong en oor val nie. Ook nie die flambojante, retoriese en blomryke Midde-Oosterse skryfstyl nie. Toe raai ‘n uitgewer-vriendin aan: doen dit in gewone, moderne Afrikaans vir die jongmense wat nie met Gibran grootgeword het nie, doen dit vir die ou aanhangers, vir almal.

Ek lees dat Gibran Jesus, Seun van die Mens, onder geweldige geestelike inspirasie geskrywe het. In sy biografie word dit trans-kanalisering genoem. Ek verkies om dit inspirasie van die Heilige Gees te noem. Elke woord het na hom gekom as hy stil voor God was. So is elkeen van die 79 hoofstukke geskrywe.

Gibran het nie ‘n maklike lewe gehad nie. As jong Arabies-sprekende seun is hy saam met sy moeder, stiefbroer en susters na Amerika waar hy as ‘n buitestaander altyd ‘n randfiguur gebly het. Daar het hy Engels geleer, begin skilder en dig, in kunstenaarskringe beweeg, en mettertyd aan drank verslaaf geraak. Hy het opgang gemaak in die literêre kringe en in Engels en Arabies gepubliseer. Van sy skilderwerk word met Bonnard, Carrière, Cézanne en Pissarro ten toon gestel.

Vanaf 1929, in sy middel veertigerjare, gaan hy fisies en emosioneel vinnig agteruit. Gedurende ‘n openbare lesing stort hy ineen en bely aan die gehoor dat hy sy kreatiewe vermoëns verloor het. Hy voel soos ‘n vulkaan waarvan die opening toegemaak is, verklaar hy.

Gibran sterf op 10 April 1931 in die ouderdom van 48 jaar nadat kanker in sy liggaam versprei het. Koerante verklaar: Die Profeet is Dood, die stad New York hou vir twee nagte ‘n nagwaak. Sy suster Mariana neem sy liggaam terug na Libanon. ‘n Indrukwekkende prosessie volg sy kis van die hawe van Beiroet tot in sy geboortedorp, Bsharri, waar hy onder groot belangstelling begrawe word. In sy testament laat hy ‘n groot bedrag na aan die mense van Libanon sodat hulle in hulle tuisland moet bly en nooit die land moet verlaat nie.

Sy finale rusplek is die Mar Sarkis Klooster waar hy in 1932 herbegrawe word. Daar is ‘n biblioteek en museum ingerig waar van sy besittings, skilderye en boeke bewaar is, maar wat vandag deur oorlog geskend en verwaarloos is.

Gibran, net soos die Jesus wat hy innig liefgehad het, is ‘n meester as dit kom by metafore en gelykenisse wat ons help om ons visie te verbreed, die onbekende te leer ken, en die raaisel in die spieël te verstaan. Die grootste waarhede word deur die eenvoudigste stories geopenbaar. Hierdie boek is ‘n storieboek oor Jesus, Seun van die Mens.

Gerard Scholtz
Rooiels
2007

 

Categories

Make a Free Website with Yola.